OM TE BOIKOT OF NIE TE BOIKOT NIE
Inleiding
Daar is baie belastingbetalers in ons geweste wat tereg liederlik die hoenders in is vir die Kouga-munisipaliteit en gevolglik die moontlikheid van ‘n eiendomsbelastingboikot oorweeg. Hulle is van oordeel dat ons munisipaliteit deurspek is met wanbestuur, nepotisme, korrupsie en onbekwaamheid. Om nie te praat van die opvatting dat ons belastinggeld op groot skaal vermors word nie, met die gevolg dat die munisipaliteit kennelik op ‘n finansiële krisis afstuur.
Die doel van hierdie nuusbrief is om ‘n voorgenome belastingboikot in perspektief te plaas.
Op die keper beskou
Het dienslewering werklik sodanig versleg dat ‘n belastingboikot onvermydelik is? In antwoord op hierdie vraag, moet voornemende boikotters enkele kwessies in oënskou neem. Hoe ver moet sake versleg voordat daar tot aksie oorgegaan word, m.a.w. wanneer is die tyd ryp vir ‘n belastingboikot? Sal die weerhouding van eiendomsbelasting die gewenste uitwerking hê? Is elke moontlike remedie probeer? Is daar hoegenaamd nog sprake van dienslewering? Byvoorbeeld: is ons strate onherstelbaar; word vullis en riool nog verwyder; is ons elektrisiteits- en watervoorsiening nog redelik betroubaar?
Wat sal die waarskynlike gevolge van ‘n belastingboikot wees?
Wanneer ‘n belastingboikot oorweeg word, moet ons probeer om die implikasies daarvan vir die munisipaliteit en die individuele belastingbetaler te verreken.
Ons moet die profiel van die belastingbasis ontleed en vasstel hoeveel belastingbetalers elders woon, hoeveel bereid sal wees om gedinge teen die munisipaliteit aanhangig te maak en hoeveel doodeenvoudig nie so ‘n aksie sal ondersteun nie.
Hierbenewens moet ons daarvan kennis neem dat die munisipaliteit teenoptrede kan oorweeg. Hoe weet ons dat die munisipaliteit nie ons dienstegeld sal
aanwend om agterstallige eiendoms-
belasting te delg nie. In hierdie geval sal huiseienaars en sake-ondernemings se finansiële verpligtinge ten opsigte van water- en elektrisiteitsvoorsiening as agterstallig beskou word en kan dié dienste opgeskort word. Sien ons kans vir toegevoegde rente? Hoe seker is ons dat ‘n hof ons gelyk sal gee dat ‘n boikot geregverdig is? Kan ons uitgerekte regsgedinge bekostig terwyl die munisipaliteit ons met ons eie belastinggeld beveg?
Slotsom
Voorstanders van ‘n belastingboikot moet seker maak wat hulle wil bereik en of die doelstelling(s) daarvan haalbaar is.
Wat is die oplossing?
Die meeste belastingbetalers stem saam dat íéts aan die saak gedoen moet word. Moet ons toi-toi, buitebande verbrand, paaie versper, klippe gooi, sing en dans en raas om ons ontevredenheid te kenne te gee? Is dit tyd om te vlug? Waarheen?
Myns insiens is dit hoog tyd dat belastingbetalers openlik moet sê: tot hiertoe en nie verder nie! Hulle moet protesbriewe aan plaaslike koerante skryf. Hulle moet in groot getalle na protesvergaderings opruk. Hulle moet saamstaan, saamstap en saam optree. Die munisipaliteit moet sien dat belastingbetalers uiters ontevrede is.
Dit spreek vanself dat verreweg die beste oplossing daarin geleë is om die ANC tydens die munisipale verkiesing in 2011 te verslaan. Terloops, daar is tans ‘n herafbakeningsproses aan die gang wat sommige kiesers sal raak. Een van die gevolge hiervan is dat hulle moontlik in ‘n nuwe wyk sal moet registreer. Kiesers sal mettertyd volledige inligting ontvang.
Ten slotte
Moet asseblief nie huiwer nie om met my in verbinding te tree by nnf@telkomsa.net, of besoek die wyksblog by http://jbayward3.blogspot.com
Ek en Marietjie wens u ‘n geseënde feesgety toe.
Groete
Nico Botha
Tuesday, December 15, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment